Verskonings: God Ken My Hart

  • Levítikus / Vayikra 21:1-24:23
  • Eségiël / Yechezekiel 44:15-31
  • 1 Petrus / Kefa Aleph 2:4-10

Levítikus / Vayikra {21:1} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Spreek met die priesters, die seuns van Aäron, en sê vir hulle: Aan ‘n dooie moet ‘n priester hom nie verontreinig onder sy volksgenote nie; {21:2} behalwe aan sy bloedverwant, sy nabestaande: aan sy moeder en sy vader en sy seun en sy dogter en sy broer; {21:3} en aan sy suster wat jongmeisie is, sy nabestaande, wat nie aan ‘n man toebehoort het nie aan haar mag hy hom verontreinig. {21:4} Hy mag hom as getroude man nie verontreinig onder sy volksgenote om hom te ontheilig nie. ”.

Ons behoort almal vertroud te wees met die uitdrukking: “Aan wie veel gegee is, van hom / haar word veel verwag”. Hier het ons selfs ‘n voorbeeld daarvan. Aan Aäron en sy seuns is ‘n verhewe amp onder die kinders van Israel verleen. Vir geslagte lank sou die amp van Hoëpriester (Cohen Gadol) in hulle familie voortbestaan en sou daar na hulle opgesien word en hulle die hoogste aansien onder die ganse volk geniet. Die priesters (cohanim) was die geestelike leiers van die volk, die verteenwoordigers van God, die pilare van die samelewing en het oor die beslissende woord in alle geestelike –en wetlike aangeleenthede beskik. Gevolglik sou God van hulle ‘n hoër mate van heiligheid verwag het.

Die priesters het in die teenwoordigheid van God diens verrig. Hulle taak het in hoofsaak die administrasie van die stelsel van naderkomsoffers (korbanot) behels. Hierdie offers was bedoel om lewe te verseker (vergifnis van sonde). God is lewe; dus kon ‘n priester, wat verontreinig was deur die teenwoordigheid van ‘n dooie persoon, die God van lewe nie behoorlik verteenwoordig nie. Soos ons gelees het, is God egter vol liefde en erbarming en het Hy wel voorsiening gemaak vir uitsonderings, wat ‘n priester toegelaat het om die begrafnisse van spesifieke familielede by te woon.

Dit bring ons by die vraag: “Het God dan uitsonderings op Sy voorskrifte?” Dit grief my dat, wanneer mense nalaat om die gebooie van God te gehoorsaam, veral dié met betrekking tot die Sabat, hulle hulself probeer regverdig. Hulle is al te gou om te sê: “ God ken my hart” of “God verstaan.” God ken inderdaad ons harte en ongetwyfel verstaan Hy ook:

1 Kronieke / Divre HaYamim {28:9} “…want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes…”.

Meen dit egter nou dat God op al Sy gebooie uitsonderings maak? Die antwoord daarop is uitdruklik NEE!

Deuteronomium {28:1} “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. {28:2} En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God.”.{ 28:15} “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.”.

God verstaan en ken ons harte, maar dit verander geensins óns verantwoordelikheid om Sy gebooie (mitzvot) na te kom nie en dan presies soos wat dit gegee is. Die enigste geleentheid waar daar wel ‘n uitsondering sou wees, is wanneer God gesê het dat daar ‘n uitsondering is, andersins is daar geen.

God het Israel, om geen rede hoegenaamd nie, uitverkies om Sy besondere skat te wees:

Deuteronomium {7:7} “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. ”.

Die feit is, God het ons, op dieselfde wyse – om geen besondere rede nie – gekies om in Jesus die Messias te glo. Van Israel (Yisrael) as volk, is ook verwag om ‘n hoër peil te handhaaf en tereg ook, omdat “Aan wie veel gegee is, van hom / haar word veel verwag.”: Selfs aan ons is té veel gegee: God het Sy eniggebore Seun gegee, sodat ons gered mag word en “Kinders van God” genoem kan word. Daarom verwag God ook van ons om ‘n hoër peil te handhaaf. Die verskonings: “God ken my hart” of “God verstaan” of enigiets soortgelyk, is nie van toepassing nie om ons vry te stel van die voorskrif om Sy gebooie noukeurig na te kom, presies soos wat dit aan ons gegee is.

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmail